Jongste cv - jannie en christa (2008)

Jannie du Toit volg ‘n musiekloopbaan na regsopleiding en taalstudies. Hy sing en speel in die sewentigerjare in poporkeste en die Afrikaanse folk-groep TRILOGIE, en word in 1979 bekend as solo-sanger tydens die “MUSIEK EN LIRIEK”–oplewing in Afrikaanse musiek. Gedurende die tagtigerjare skryf hy musiekblyspele en word bekend as liedjieskrywer en kabaretsanger, maar begin ook ‘n katalogus van minder kommersiële Suid-Afrikaanse musiek, JNS MUSIEK. Hy stel ook in sy verhoogoptredes en opnames baie Suid-Afrikaners sedert die vroeë tagtigerjare bekend aan Nederlandstalige  musiek.
Christa Steyn ontvang klavieropleiding van die gevierde leermeesters Adolph Hallis en Pieter de Villiers. Sy hanteer musiekregié van blyspele by die PU vir CHO en studeer ook in musiek aan die gemelde Universiteit. Sy raak betrokke  by ligte musiek in die ALABAMA Studentegeselskap en skryf sedert die laat sewentigerjare ‘n groot aantal Afrikaanse liedjies. Vanweë haar voorliefde vir begeleiding, tree sy gou op die voorgrond as pianis vir vooraanstaande kunstenaars, maar werk sedert 1986 as medekunstenaar, liedjieskrywer, begeleier en verwerker saam met Jannie du Toit. Sy het ook reeds tien solo-albums agter haar naam. 

Jannie en Christa se samewerking begin in 1986 toe wyle Michal Grobbelaar hulle versoek om ‘n program vir Johannesburg se Eeufeesvieringe aan te bied. Die program was BLIK EN SNAAR wat op die ou end landswyd en ook in Europa aangebied is. Daarna volg talle aanbiedinge in die kabaret-genre, waaronder SKADU’S TEEN DIE MUUR, DE KLEINE MAN SPOORLOOS, GENERASIES GAAP NIE (Liz Meiring 2001), en HANDE INNIE AS saam met Rouel Beukes in 2003. Hulle werk ook jare lank saam aan die ATKV se liedjiewerkswinkel, en is albei van tyd tot tyd beoordelaars vir die CRESCENDO musiekkompetisie – Christa ook vir jare musiekregisseur. Albei kunstenaars is van tyd tot tyd vereer met toekennings deur verskillende kultuurinstansies asook nominasies en toekennings soos die SAMA’s en voorgangers daarvan.

Albei kunstenaars beskou hul maandlange konsertreise na België, Kanada en die VSA (2002 en 2005), in 2003 na Australië en Nieu-Zeeland, en weer na die Lae Lande in 2006, as hoogtepunte van hulle loopbane tot dusver. Hulle projek (2004) – NAGKANTOOR - was ‘n groots opgesette program oor die lewe en werk van Koos du Plessis saam met ‘n aantal van ons voorste kunstenaars. JANNIE EN DIE TANNIE, saamgestel en geregisseer deur Engemi Ferreira is hulle program wat plaaslik en in die buiteland van hulle grootste suksesse tot dusver opgelewer het. Dit is ook gedurende 2006 op DVD vrygestel – laasgenoemde is bekroon as die beste Afrikaanse groep-DVD in die Vonk-toekennings 2007.
2006 word hulle 20 jaar van samewerking gevier met ‘n program getitel ONS KOM ‘N LANG PAD waaraan ‘n twintigtal kollega’s – van jonk tot oud – saam met hulle deelneem.
Gedurende November/Desember 2006 verskyn ‘n nuwe aanbieding op die verhoog: DIE ROOI LORRIE saam met Carel Trichardt, Petru Wessels, Ruco Pretorius en ‘n vokale ensemble. In 2007 stel Jannie sy jongste CD vry: DIEPVERLANGE met verwerkings deur Christa. Dié album word deur die ATKV benoem vir die Liertoekennings, 2008.

In die musiekspel HOUTKRUIS wat gedurende Mei/Junie 2008 in die Opera van die Staatsteater aangebied word is Christa in beheer van die orkes, en vertolk Jannie een van die hoofrolle.
 
© Kopiereg | Terme en kondisies

Copyright©2008. All rights reserved
Best Browser - Internet Explorer 6; Resolution - 800x600
Hosted by
Interexcel - Web Design and web site design are the specialists of this Pretoria based company.