1. Lied van 'n swerwer - Jannie du Toit
MS SAMRO
luister na die liedjie van 'n swerwer-sanger
sy woorde sê al meer by elke olielampkonsert
want die woorde kom ook kaalvoet
oor die stofpad met hom saam
word ook dag vir dag verouder
deur die son en wind en maan
luister na die liedjie van 'n swerwer
ken jy die soet van sy verhaal?
die skrywer van die woorde
is die kronkels in die langpad
en die swerwer sing die lied in mensetaal
daar's baie wat wil hoor
min weet waaroor dit gaan
want al is die taal eenvoudig
net wie luister kan verstaan
hul skaterlag vir die kwinkslag
van die lawwe troebadoer
en gaap dan onbewoë as hy dieper snare roer
daar's 'n veertjie in sy hoed
miskien 'n doring in sy voet
daar's 'n vonkel in sy oë
dalk 'n traan in sy gemoed
maar hy sing sy swerwersliedjie
oor 'n swerwer se bestaan
hy sing oor jou en my, my vriend
al kan ons min verstaan
luister na die liedjie van 'n swerwer
ken jy sy bittersoet verhaal?
die skrywer van die woorde
is die kronkels van die lewe
en die swerwer sing die lied in mensetaal
|