4. Ensemblespel
MS SAMRO |
TEKS: Jannie du Toit
MUSIEK: Christa Steyn
VERW: Christa Steyn |
Kollig volg waar ons gaan
tree vir tree deur die intrige
ons speel virtuoos - natuurlik
soos twee hoogs ervare sterre in die glansteater
Speel so oortuigend vanaand
met talent en tegniek en verstand
die vertoning is suksesvol
die gehoor stem blykbaar saam -
"nous allons bien ensemble"
Slottoneel klaar gespeel
nog 'n encore vir ons albei
skares juig - duidelik oortuig
ons vat hande vir 'n laaste buiging
Speel so oortuigend vanaand
dalk die beste duet in die land
die vertoning is uitstekend
kritici sal dit beaam -
ons is baie goed saam
Ligte doof dik gordyn
word getrek oor ons toneelspel
applous het verdwyn
en ons verskyn
in die soeklig van die naakte waarheid
Sonder grimering vanaand
maar nou met 'n troef in die hand
ons is terug by ons intriges
wat ontknoping telkens keer
ons sal nog moet repeteer
ons sal môre weer probeer
Want al die harmonie wat klink
as ligte op verhoë blink
vervaag as ons maar weer
ons samespel van voor af regisseer
Ons speel so oortuigend vanaand
met sjarme en drif byderhand
die vertoning is fantasties
selfs die pers moet dit beaam -
"nous jouons bien ensemble":
ons speel skitterend saam
|