verhoog - van berlyn tot bapsfontein
Stephan Bouwer nader in 1988 vir Laurika Rauch en Jannie du Toit om saam op te tree in sy "kabaretkonsert" VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN - 'n konsert/sanguitvoering wat by die kabaret aansluiting vind. In wyle Stephan - die regisseur en samesteller se woorde - "val die klem op Afrikaans en op liedjies wat mekaar toelig sodat geen kommentaar werklik nodig is nie. Die konsert is ge-"werkwinkel"met die gulhartige medewerking van kunstenaars soos Christa Steyn, Roux Engelbrecht, Gordon Engelbrecht, Ansa du Toit en Didi Kriel."
Die program het 'n kontinentale sfeer gehad, met benewens oorspronklike Afrikaanse materiaal ook musiek uit Duitsland, Nederland en Frankryk. Sommige van die tekste is in Afrikaans vertaal deur onder andere Hennie Aucamp, Stephan Bouwer en Rosa Keet, maar heelwat daarvan is ook in die oorspronklike taal gesing. Omdat daar voor hierdie program nog min Afrikaanse kabaret vir die breë publiek te sien was, is die baie gewilde VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN gesien as 'n deurbraak vir die genre in Afrikaans.
Die program het in Januarie 1988 in "CLUB 58" in Hillbrow gedebuteer met Didi Kriel by die klawers, Ruben Samuels as tromspeler en Spiro Paxinos op die kotrabas. Dit is landwyd met groot sukses en gunstige kritiek aangebied. By geleentheid het Elzabé Zietsman vir Laurika, en Johan Engelbrecht vir Jannie ingestaan.
|