verhoog - blik en snaar
Hierdie program is saamgestel in opdrag van Michal Grobbelaar, destydse Direkteur van die Johannesburgse Stadskouburg, met die oog op Johannesburg se Eeufeesvieringe in 1986. Die titel BLIK EN SNAAR is na aanleiding van 'n liedjie van HERBIE EN SPENCE gekies, ook met verwysing na die sinkhuisies van ou Johannesburg en die blikkitaar as simbool van volksmusiek. Dit het die samewerking tussen Jannie en Christa ingelui, en verskeie kunstenaars waaronder Greta Jones, Kobus de Witt, Fearika Heyns, Fritz de Wet, Marié du Toit, Lisbé Visser en Pieter van der Westhuizen, was van tyd tot tyd betrokke. Dit is 'n vermaaklike kykie na die ontwikkeling van Afrikaanse musiek oor 'n tydperk van 'n honderd jaar en bevat keuses van die oudste tot die jongste "klassieke" Afrikaanse liedjies. "O, die donkie" en "Waterblommetjies" is deel van die program en so ook Danie Bosman se nostalgiese "Ou Musikant". Hoogtepunte is die hartverskeurende pleidooi van die Briels, "Moenie aan pappie meer sjerrie verkoop nie" en die destyds alternatiewe styl van Johannes Kerkorrel se "Gee jou Hart vir Hillbrow".
In 1988 kry die groep kunstenaars die geleentheid om BLIK EN SNAAR by ambassades in Britanje en Europa aan te bied, terwyl 'n TV-program oor die revue opgeneem en later daardie jaar gebeeldsend is.
|