verhoog - de kleine man
Jannie en Christa se voorliefde vir die Nederlandse kleinkuns lei daartoe dat hulle Ilse van Hemert in 1994 versoek om vir hulle 'n program van uitsluitlik Nederlandse materiaal saam te stel. Christa is begeleier en behartig die musiekregie, maar deur Ilse se toedoen kry sy ook die rol van 'n figurant wat in latere aanbiedinge uitgebou sou word tot die skreeusnaakse dog charismatiese "Tannie". Musiek geskryf tussen die jare twintig en negentig van die twintigste eeu word in die program ingesluit. Daar is liedere van Vlaamse sangers soos Brel, Urbanus en Van der Velde, en verder ook van Nederlanders - Louis Davids, Herman van Veen, Jules de Corte en andere.
DE KLEINE MAN dra die titel van Louis Davids se liedjie uit die twintigerjare, en gaan oor die gewone man - die enkeling - en sy stryd teen die burokrasie en "een honderdduisend dingen". Die grondliggende tema is diƩ van die enkeling se gryse bestaan, sy vereensaming en sy betekenisloosheid binne die samelewing.
Die program debuteer in die Johannesburgse Stadskouburg en is onder andere te sien by die heel eerste KKNK gedurende 1995. Dit het gespreek tot 'n baie entoesiastiese nisgehoor, en word vir Jannie en Christa 'n grondverskuiwende ervaring wat hulle ook by die publiek vestig as egte kabaretkunstenaars.
|