verhoog - de kleine man spoorloos!
DE KLEINE MAN SPOORLOOS! is 'n kabaret oor die lief en leed van die gewone man, sy desperate pogings om weg te breek uit 'n grys bestaan, sy frustrasie, hartseer, hoop, verdwyning en… uiteindelik… sy oorwinning. Dit is 'n opvolgprogram op DE KLEINE MAN (1994), met talle nuwe liedjies en spottery, weer eens gekies uit die beste van die Nederlandse en Vlaamse Kabaret van die twintigste eeu. (Onder andere Davids, Brel, Sonneveld, Hermans, Van Veen, De Corte, Van't Hek en Urbanus!)
Die "klein mannetjie" het met 'n vrou soos sy ma getrou: 'n goeie siel, maar sonder twyfel erg dominerend! Sou liefde die oorsaak van sy verdwyning wees, of was dit dalk eerder sy vriende se dislojaliteit, die belastinggaarder se origheid, die massamedia se gewetenloosheid, of sy eie voorliefde vir 'n "pintje" wat hom onder gekry het? Ilse van Hemert, vooraanstaande regisseur (bekend vir onder andere UIT DIE BLOUTE en meer onlangs die grootse GENERAAL MANNETJIES MENTZ) vleg die hele verhaal tot 'n eenheid van musiek en drama, beeld en klank.
Braam Muller van Volksblad noem die program "Kabaret in die ware sin van die woord" en " 'n heerlike teaterervaring", terwyl Jan-Jan Joubert in Rapport skryf dat die program "die vertelkuns meesterlik melk" en van Christa Steyn praat as Suid-Afrika se eie Mr Bean wat die gehoor laat skater sonder om haar mond oop te maak: "Wat 'n juweel het ons nie hier nie!". Birgit Otterman van Die Burger sê dat Ilse van Hemert die materiaal "tot 'n perfekte eenheid van toneel en sang" verweef het en verwys na Christa Steyn se "uitstekende begeleiding" . "Die goeie diksie en vertolking ontlok, soos dit 'n goeie kabaret betaam, 'n kaleidoskoop van emosies...", meen gemelde resensent verder.
Hannelie Booyens van Beeld merk op dat die relatief onbekende musiek onmiddelik tot 'n mens spreek: "Deurdrenk met humor en patos, vlymskerp sosiale kommentaar en 'n tikseltjie nostalgie is dit ligjare verwyder van die deursnee Afrikaanse liedjie. Tipies Nederlands is die sprong tussen platvloerse barheid en liriese, diepsinnige waarhede baie klein."
Paul Boekkooi skryf in 2001 soos volg op Artslink:
As dit wat in Afrikaans of in Suid-Afrika as kabaret deurgaan jou walg, sal De kleine man spoorloos! die soort regstellende perspektief plaas op hierdie ontwykende kunsvorm.
Ontwykend? Bepaald - veral omdat daar geen tradisie om van te praat in ons land bestaan nie, terwyl kabaret juis in 'n land soos ons s'n behoort te floreer. Kabaret is in wese soos 'n dans op 'n mespunt: uitdagend, fisiek gevaarlik en psigies uitmergelend.
Dit behoort jou soos 'n bombardement met die herkenbare in die samelewing te bestook. Deur nuwe en veral ironiese perspektiewe uit te lig, verkry dit die tweesnydende funksie van 'n lanset in die chirurgie: dit maak jou bewus van of verwyder die kwaad, of wys minstens op die ongerymdhede in die gemeenskap.
Jannie du Toit, Christa Steyn en Ilse van Hemert se samestelling van De kleine man spoorloos! is 'n kwantumsprong verwyder van hul oorspronklike konsepsie soos saamgevat in De kleine man wat uit 1994 dateer. Daardie produksie was geensins onaardig nie, maar het nie veel van 'n bindingsteks of 'n dramatiese ontwikkelingsgang uitgestraal nie.
Die nuwe kabaret gebruik 'n begrafnis as 'n metafoor vir die verdwene grys mannetjies in die moderne tyd. Wat het tot hul verdwyning bygedra? Hul onmag teenoor die opmars van die tegnologie? Die steeds sterker wordende isolasie van die individu in die moderne samelewing? Dalk 'n ongeankerde emosionele lewe?
Kabaret is die spel rondom prikkelende idees, waargeneem deur die skerpgeestigheid van die kabaret- en liedjieskrywer wat deur middel van lirieke en herkenbare, soms emosioneel gelaaide melodieë daarmee rondomtalie speel.
Jannie du Toit se selfverklaarde bewondering vir die werk van Jules de Corte, plaas De kleine man spoorloos! vanselfsprekend sentraal, want die blinde De Corte het soos niemand anders nie in die siel van die verteenwoordigers van die Nederlandse middelklas kon kyk.
De Corte met sy "levensliedjes," asook die van baie van sy meer gewaagde Nederlands- en Vlaamstalige kollegas, delf diep in die psige van die mannetjies en vroutjies wat aanvanklik idealistiese paaie gekies het, maar deur 'n gees van kleinburgerlikheid in die samelewing doodgewurg is.
Die driemanskap van Du Toit, Steyn en Van Hemert het 'n sprong gewaag deur die kabaret met die taboe-onderwerp, naamlik die dood te laat wegspring, om in die loop daarvan verskeie perspektiewe op "lewe" te ontgin.
Du Toit sing Nederlands met veel meer gemak en uitdrukkingskrag as in die vorige produksie, terwyl Christa Steyn in haar begeleidings imponeer omdat sy so presies die gees van elke lied haar eie maak. Weinig nuanses gaan by hul verby. Hul beroer en roer met die kern van elkeen van hierdie wyd uiteenlopende liedere.
Hoewel veel skoonheid in die program te ontdek is, ontlaai hulle dit ook - waar gepas - met humor of die soort ironie wat jou laat krul van die lag. Die maatskaplike insig wat liedjies soos Kletsnatte clowns, Lelijke mensendag of Houten kop weerspieël, laat jou nie los voordat dat daar nie deernis in jou gemoed opgewek is nie…
Benewens soms 'n hoogs vergeefbare vergissing tussen "de" en "het" in die Nederlandse taal asook sporadies 'n onidiomatiese uitspraak van 'n woord of twee, is Jannie du Toit se statuur op die verhoog onbesproke - ook in die tongknoperige monoloë. En Christa Steyn het in haar "stil spel" na die pouse bewys dat sy 'n natuurlike komediant is. As pianis bly sy 'n onmisbare skakel, die ruggraat by hierdie reis deur die wye landskap van Nederlandstalige kabaretkuns van die 20ste eeu.
De kleine man spoorloos! word visueel-dramaties sterk deur Ilse van Hemert geanker. Dit maak dat die opvoering enorm wen op die vlakke van toeganklikheid en begrip. 'n Totaal ongewone ervaring wag vir almal wat waag om dit te gaan sien.
|