verhoog - liedjie-aande in margaretastraat 28

In samewerking met Johan Kruger, destyds 'n kollega in die regsberoep, besluit Jannie om vir liedjieskrywers soos Johan en andere die geleentheid te gee om gehoor te word. Hy stel sy huis - Margaretastraat 28, Riverdale, Pretoria - in 1981 beskikbaar vir almal wat in die trant van die "luisterlied" geskryf , en vir die entoesiaste wat hulle ondersteun en graag geluister het. Andy Lubbe, vroeër lid van Trilogie, het in dié stadium saam met hom gewoon, en hulle sorg dat die huis elke Vrydagaand oopstaan vir almal wat belang stel. Vir talle musiekmakers wat aan die begin van hulle loopbane gestaan het was dit 'n uitstekende geleentheid om hulle werk voor 'n waarderende gehoor uit te probeer. Jou eie bottel wyn en eetgoed was al wat dit gekos het.

Van die bekende name wat daar 'n draai gemaak het, was Koos du Plessis, Janita Claassen en haar sangmaat RD van Huyssteen, Anneli van Rooyen, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Richard van der Westhuizen, Ruben Lennox, Marietjie Stoop en Morg Jacobs. Teksskrywers soos Babs Pretorius en Theo Naudé was ook gereeld daar, en vrugbare samewerking het daar ontstaan. Koos du Plessis, wat op openbare verhoë dikwels glad nie die singery geniet het nie, het in 'n stadium feitlik nog net by die liedjie-aande kans gesien om "voor mense" te sing.

Na twee jaar het die liedjie-aande aan die begin van 1983 tot 'n einde gekom, maar dit het sonder twyfel 'n behoefte aangetoon en op inisiatief van Anneli van Rooyen begin TRUK kort daarna met 'n reeks konserte getitel KERSLIG, VERS EN MELODIE wat dié werk vir die volgende dekade sou voortsit.

 
© Kopiereg | Terme en kondisies

Copyright©2008. All rights reserved
Best Browser - Internet Explorer 6; Resolution - 800x600
Hosted by
Interexcel - Web Design and web site design are the specialists of this Pretoria based company.