verhoog - LOELOERAAI
LOELOERAAI is 'n roman wat deur Langenhoven, in 1923, gepubliseer is en dit kan met reg as 'n vroeë stukkie wetenskapsfiksie beskryf word. Voordat Afrikaans nog as amptelike taal deur die parlement aanvaar is, verskyn dié werk dus, maar Langenhoven se insig, verbeeldingrykheid en bowenal sy treffende sin vir humor, het tot gevolg dat LOELOERAAI vandag nog tot ons kan spreek. LOELOERAAI, die hooffiguur, is 'n boorling van Venus, wat 'n besoek aan die aarde bring en vanaf 'n hoër ontwikkelde planeet, (sowel tegnologies as moreel) sy boodskap van liefde aan die aardbewoners bring. LOELOERAAI se kennismaking met die aarde en 'n vakansiereis na die maan vergesel van Langenhoven en sy gevolg, is die gebeurtenisse waarom die hele roman hom afspeel.
Prof. Anna Neethling-Pohl, wat ook as regisseur optree, het die dialoog vir die blyspel versorg, terwyl Jannie du Toit, verbonde aan die Kultuurburo van die Universiteit Pretoria, die oorspronklike musiek en liriek vir die musiekblyspel geskryf het. Ansa du Toit, 'n bekende in musiekkringe in Pretoria, tree op as musiekregisseur van die groep.
Die groep self bestaan uit 'n dertigtal Tukkie-studente, waaronder sangers, instrumentaliste, tegnici, personeel en 'n verhoogbestuurder tel.
Afgesien van 'n toer gedurende Julie 1983 deur die Vrystaat en Kaapprovinsie met Oudtshoorn as hoogtepunt, word dertien verskillende optredes in onder andere die Aula, die Staatsteater (Arena) en die Roodepoortse Staatsteater gehou.
|