verhoog - koos doep huldeblyk - nagkantoor -
in stellenbosch

Twintig jaar na die vermaarde liedjieskrywer Koos du Plessis se vroeë dood was dit in 2004 tyd om sy werk weer in oënskou te neem. 'n Nuwe verhoogstuk getitel NAGKANTOOR van PG du Plessis en Carl Theunissen is in dié jaar deur teater-diva Sandra Prinsloo vir die KKNK opgevoer. PG was vroeër redakteur by die HOOFSTAD waar Koos subredakteur was, en Carl was 'n kollega van Koos. Saam gee hulle in die stuk 'n nuwe perspektief van humor én nostalgie op die kunstenaar, en die aanbieding speel af in die nagkantoor van so 'n dagblad. Koos du Plessis word allerweë beskou as die belangrikste invloed van die laat jare sewentig se musiekherlewing in Afrikaans - die Musiek-en Liriekbeweging.

Mathys Roets en Jannie du Toit, twee sangers wat bekendheid verwerf het met hulle weergawes van Koos du Plessis se liedjies, werk saam in hierdie produksie, waarin ook twee van ons voorste akteurs, Marcel van Heerden en Eric Nobbs te sien is. Saam met hulle op die verhoog is twee jong sangeresse: Charlene Truter van Pasella-faam, en Yolandé Strauss, Crescendo-finalis. Die musiekregié word waargeneem deur die ervare Christa Steyn by die klavier, bygestaan deur Mauritz Lotz (kitaar), Matthys Maree (klawers) en Arend Brink (tjello). Gehore en kritici het die stuk met groot entoesiasme ontvang, in so 'n mate dat daar nou - twee jaar na die eerste speelvak - steeds van oraloor belangstelling in die produksie is.

AGTERPLAAS PRODUKSIES, in samewerking met OUDE LIBERTAS en die alleenborg DISTELL, bied NAGKANTOOR in die OUDE LIBERTAS AMFITEATER op Stellenbosch aan. Daar is slegs drie vertonings, om 20h00 (sitplekke 20h15) op Donderdag 2 tot Saterdag 4 Maart en kaartjies is beskikbaar van www.oudelibertas.net, of van Candice by 021-809-7380 teen R80,00.

 
© Kopiereg | Terme en kondisies

Copyright©2008. All rights reserved
Best Browser - Internet Explorer 6; Resolution - 800x600
Hosted by
Interexcel - Web Design and web site design are the specialists of this Pretoria based company.