verhoog - trilogie
Trilogie bestaan uit vier lede - Francois (Morg) Jacobs, Andy Lubbe, Clive Doubell en Jannie du Toit. Die naam van die groep hou verband met die feit dat hulle op daardie harmonie konsentreer. Die groep het na vore getree toe hulle deur Peter Lotis ontdek is.
Morg het sy naam te danke aan sy geboortedorp, Morgenzon, en was 'n M.A. student in Staatsleer aan die Randse Afrikaans Universiteit. Hy het 'n stem wat aan die van Cat Stevens herinner en sing gewoonlik die solo gedeeltes van Trilogie se musiek. Saam met Jannie, en op sy eie, het Morg 'n hele aantal komposisies op sy kerfstok.
Andy was 'n assistent-hotelbestuurder van Nelspruit, wat met die ander lede van Trilogie kennis gemaak het terwyl hy sy opleiding by die hotelskool in Johannesburg ontvang het. Alhoewel die afstand heelwat probleme met oefeninge veroorsaak, dink die ander lede van Trilogie nie eers daaraan om sonder hom klaar te kom nie. Sy soet stem, ghitaarspel en uitsonderlike aanvoeling vir 'n derde harmonie sorg dat hy onmisbaar vir die groep is.
Clive is hoofsaaklik verantwoordelik vir die instrumentale gedeelte van die musiek. Hy was 'n ingenieurswese student by R.A.U. Clive was een van die min mense in Suid-Afrika wat die pedaal-staalghitaar kon bespeel. Die instrument kan gehoor word op die groep se eerste solus seweplaat - Anita Lief en Maanligaand - wat deur Gallo vrygestel is. Clive speel ook akoestiese en basghitaar.
Jannie was 'n B. Iuris student aan die R.A.U. en komponeer saam met Morg die groep se liedjies. Hy speel ghitaar en help met die harmonieƫ.
Al vier beskou musiek min of meer as 'n voltydse stokperdjie en bestee elke beskikbare oomblik aan die ontwikkeling en verbetering van hulle talente. Al vier stel in rugby belang alhoewel hulle nooit vir dieselfde span skree nie.
Die lede van Trilogie stel hulself ten doel om Afrikaanse musiek van 'n hoƫ gehalte te skep. Dit word beloon deurdat die groep in 1976 'n "Honorable Mention Prize" by die American Song Festival verower met die liedjie Droom langs stille waters. Hulle is sterk gekant teen vertalings omdat dikwels geforseetd klink en die karakter van 'n liedjie skaad. Dit is baie meer sinvol om 'n bestaande Afrikaanse gedig te toonset of andersins oorspronklike woorde vir 'n oorspronklike wysie te skryf. Hiermee verwoord hulle basies die uitgangspunt van die Musiek en Liriek - beweging van 1979.
|